Oscar-skietery: Ooggetuies beweer paartjie het gestry

Oscar Pistorius arriveer by die polisiestasie. Foto: Sapa

Die land het Donderdag met die skokkende nuus wakker geword dat die Paralimpiese atleet en sportheld Oscar Pistorius, in die vroeë oggendure sy vriendin doodgeskiet het ná hy haar glo as ʼn inbreker aangesien het.

Oscar (26) het die model Reeva Steenkamp (30) Donderdagoggend glo per ongeluk geskiet. Sy is glo in die bolyf en kop gewond en is op die toneel dood.

Intussen het ooggetuies vorendag gekom wat beweer die paartjie het Woensdagaand glo ʼn uitval gehad. Op Twitter en Facebook gons dit dat daar konflik tussen die paartjie was, omdat Reeva glo met Quinton van der Burgh, skepper van die werklikheidsprogram, Clifton Shores, bevriend was. (Maroela Media het vroeër ook hieroor berig. Klik hier om meer te lees.)

“Die ondersoek is in ʼn sensitiewe stadium en word sorgvuldig ondersoek. Ons kan bevestig dat daar voorheen gevalle van huishoudelike geweld by sy huis was en dit word ook ondersoek,” het brigadier Denise Beukes, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. Sy sê daar was geen teken van geforseerde toegang tot Oscar se perseel nie en gerugte dat sy geskiet is nadat sy as ‘n inbreker aangesien is, kom nié van die polisie af nie.

Oscar moes in 2009 ʼn nag lank in die selle van die Boschkop-polisiekantoor aangehou word nadat hy glo ’n 19-jarige vrou op ’n partytjie, waar drank glo volop was, by sy huis aangerand het. Hy is die aand in September omstreeks 22:00 voor vriende en familie by sy huis in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die klaer was Casseby Taylor Memory (toe 19).  Oscar is na die voorval nie weens die beweerde aanranding vervolg nie. Dit volg na ʼn voorval vroeër in 2009 waar hy op 21 Februarie in ’n bootongeluk op die Vaalrivier betrokke was. Die polisie het ’n saak van roekelose en nalatige bestuur van ’n vaartuig teen Pistorius ondersoek nadat sy boot, wat hy glo bestuur het,  vermoedelik eers teen en daarna bo-oor ’n kaai in die rivier gery het. Daar is glo drankbotteltjies in die boot gevind. Hy is ook nie op dié aanklag vevolg nie omdat genoeg billike redes nie gevind kon word nie.

Oscar se pa, Henke, het intussen gesê net Oscar sal weet wat regtig gebeur het en dat almal erg deur die voorval geskok en getraumatiseer is. “Ons is nog nie seker wat presies gebeur het nie. Ons doen egter ʼn beroep op die publiek om nie in die stadium enige aannames te maak nie,” het hy gepleit.

Die voorval het omstreeks 04:00 in Oscar se huis in die Silver Woods-veiligheidskompleks in Silver Lakes, Pretoria, plaasgevind. Hy is na die voorval in hegtenis geneem op aanklag van moord. Oscar is na die Boschkop-polisiestasie geneem. Die staat het egter laat weet hulle gaan sy borg teenstaan. Hy bly in polisieaanhouding en moet Vrydag in die Pretoriase landdroshof verskyn. Beukes het gesê Oscar gee sy volle samewerking. Sy sê voorts die polisie kan nie in die stadium al hul redes bekend maak hoekom hulle sy borg gaan teenstaan nie.

Sien ook:
Oscar gaan aand in tronk spandeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JP Pretorius ·

Dit is baie jammer dat die staat borgtog gaan teenstaan vir Oscar .Wat het gebeur met die swarte wat n blanke fiets ryer doodgery het hy het borgtog gekry en is aangekla vir strafbare manslag en nie vir moord nie .Dit wys maar weereens hoe korup is ons land en regstelsel

Veronica ·

Snaaks dat hulle sê ooggetuies. Dit beteken volgens my dat hulle binne in die huis was ten tyde van die konflik Donderdag oggend. Was hulle nie dalk oorgetuies van vorige struwelinge en veralgemeen nou dat hy haar geskiet het omdat hulle baklei het. Jammer maar mense kan regtig die pap baie dikker aanmaak as wat dit werklik is.

Tante Afrikana ·

Nou hoe gewelddadig kan ‘n mens sonder bene dan nou wees ??? Een harde stamp sal mos die man laat omval of hoe ??? Ja en alle normale mense stry ook mos maar….laat ons nou asb nie die wa voor die perde span nie. Gee darem die outjie kans om sy weergawe te gee,

Bianca Britz ·

Dit is hartseer en ek hoop en glo ook dat die waarheid sal seëvier.
@ Tante Afrikana, geen mens het bene nodig om ‘n sneller te trek nie, hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.