Oscar wil teen borgtogvoorwaardes appelleer

Oscar Pistorius. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die moordverdagte Oscar Pistorius het glo sy borgtogvoorwaardes betwis en aangevoer dat dit onregverdig en onbillik is.

Volgens eNCA gaan Pistorius se regspan versoek dat verskeie van die borgtogvoorwaardes verander of geskrap word. In dokumente wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, voer Pistorius se regspan aan dat Pistorius toegelaat moet word om te kan reis, aangesien landdros Desmond Nair reeds tydens die borgtogverhoor aangevoer het dat hy nie ʼn vlugrisiko is nie. “Pistorius moet toegelaat word om te kan reis, mits hy toestemming van die ondersoekbeampte het,” lees die dokument.

Pistorius se regspan het ook beweer dat dit onnodig is vir Pistorius om twee keer ʼn week by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aan te meld.

Hulle probeer ook die voorwaarde skrap wat Pistorius versoek om verpligte dwelm- en alkoholtoetse by sy proefbeampte in te dien. “Daar is geen behoefte by die appellant om verbode middels of alkohol te gebruik nie, maar dié voorwaarde is nie geregverdig of deur feite gestaaf nie.”

Pistorius versoek ook om toegelaat tevword om terug te keer na sy huis in die Silver Woods-landgoed, waar hy op Valentynsdag vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het.  “Hoewel die staat geregtig is om ondersoek by die huis en onder inwoners van die landgoed te doen, moet daar egter ’n redelike tydsbeperking daarop wees. Daarna moet hy toegang tot sy eie eiendom hê. Die breë verbod om met inwoners van die landgoed te kommunikeer is onregverdig en sal die appellant se reg op ’n regverdige verhoor benadeel omdat hy nie met inwoners vir sy eie verdediging kan konsulteer nie.”

Landdros Nair moet nou op dié versoeke reageer voordat die appèlaansoek teen die borgtogvoorwaardes in die hooggeregshof aangehoor sal word.

Pistorius is op 22 Februarie op R1 miljoen borgtog vrygelaat nadat hy vir die moord op Steenkamp in hegtenis geneem is. Hy Moet weer op 4 Junie in die hof verskyn.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.