OTM-ontploffings: wanorde in polisie moontlike oorsaak

ABSA OTM-aanval in Kemptonpark, Julie 2008

Dit is moontlik weens wanorde in die misdaadintellegensie-eenheid en ʼn tekort aan bekwame speurders dat aanvalle op outomatiese tellermasjiene (OTM) gedurende die afgelope jaar toegeneem het, het ʼn misdaadkundige Vrydag gesê.

Georganiseerde misdaadsindikate maak gebruik van die swakhede in die polisiestelsel, het die Instituut vir Sekerheidstudies se misdaad en justisie-kundige, Johan Burger, gesê. “Een swakplek is die onvermoë om bruikbare misdaadintelligensie oor sindikate in te vorder weens interne probleme. Daar is tans ʼn geweldige wanorde,” het hy gesê. “Hierdie sake moet ook meer in diepte ondersoek word. Daar word te min aandag geskenk om speurders met ondervinding aan te stel wat tot suksesvolle vervolging kan lei.”

Burger meen daar moes iets gebeur het wat die 61%-toename in OTM-aanvalle die afgelope jaar veroorsaak het. In 2010/2011 het daar 399 OTM-aanvalle plaasgevind in vergelyking met 247 aanvalle in 2009/2010 met Gauteng en KwaZulu-Natal wat die swaarste getref is. In hierdie stadium het daar verskuiwings binne die misdaadintelligensie-eenheid en ander polisiedepartemente plaasgevind.

Kontant-in-transito-rooftogte het egter die laagste vlakke in vier jaar bereik. “Transito-rooftogte was ʼn groot risiko. Oortreders in daardie sindikate het hul aandag op ʼn sagter teiken naamlik OTM’e gevestig,” het Burger gesê. Sigbare polisiëring by OTM’e het gedeeltelik sukses behaal maar dit moet verstewig word. Die bankbedryf moet ook sy perspektief verander. “Die bankbedryf meen die OTM’e moet gebruikersvriendelik en toeganklik wees. Misdadigers beskou dit as ʼn swakheid en buit die situasie uit. Banke sal die ligging van die masjiene in heroorweging moet neem,” het Burger gesê.

“Talle banke, petroleummaatskappye en handelaars het OTM’e in geboue begin installeer in ʼn poging om die aanvalle hok te slaan,” het Marc Sternberg, besturende direkteur van Spark OTM-sisteme Vrydag gesê. “OTM’e in winkels word nie aangeval nie, aangesien daar ʼn verhoogde sekuriteitsprofiel is. Daar is alarms, kringtelevisie-kameras, wagte en toesluitfasiliteite na-ure,” het hy gesê. “Die aanvallers of bendes verkies OTM’e wat ʼn straataansig het waar hulle maklik toegang kan verkry.”

Meeste aanvalle vind tussen 02:00 en 05:00 in gebiede met swak beligting plaas. Talle aanvalle vind plaas weens inligting wat die kriminele ontvang, aangesien dit doelloos sou wees om ʼn masjien oop te breek wat nie kontant in het nie, het Sternberg gesê. Aanvallers kom selde weg met hope kontant aangesien hulle óf die note opblaas óf masjiene wat kleur spuit aktiveer.

Sedert die begin van die jaar het OTM-aanvalle in die Oos-Kaap, Gauteng, Noordwes, en Wes-Kaap plaasgevind. Sternberg sê hy is besorg oor die aanvalle in die Wes-Kaap, aangesien dié provinsie tot dusver hoofsaaklik nie aangeval is nie. Rowers het Dinsdag ʼn OTM naby ʼn gerieflikheidswinkel in Durbanweg, Bellville aangeval. ʼn OTM in Vasco-rylaan in Goodwood, Kaapstad is vroeg Vrydagoggend opgeblaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.