Oud-Bloubul weer in hof vir bylmoorde

Argieffoto

Argieffoto

Die verhoor van die voormalige Bloubul-rugbyspeler wat daarvan verdink word dat hy vier mense vermoor het, hervat Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof.

Drie van die vier slagoffers is met ʼn byl doodgekap en onthoof.

Phindile Joseph Ntshongwana word aangekla van die moord op Thembelenkosini Cebekhulu in Montclair op 20 Maart 2011. Hy het na bewering twee dae later Paulos Hlongwa vermoor en vir Simon Ngidi ʼn dag later. Hy word ook verdink van die moord op ʼn onbekende man later die week. Ntshongwana is by sy ouers se huis in Yellowwoodpark, Durban, in hegtenis geneem.

Hy word ook aangekla van die ontvoering en verkragting van ʼn vrou op 28 November 2010 in Durban. Hiervoor staar hy twee aanklagte van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die gesig. Die vrou, wie se naam nie genoem mag word nie, is in Durban ontvoer en glo vir drie dae lank deur die beskuldigde aangehou.

Phindile Joseph Ntshongwana. Foto: sowetanlive.co.za

Phindile Joseph Ntshongwana. Foto: sowetanlive.co.za

Hy het op al die aanklagte onskuldig gepleit.

Tydens ʼn vorige verskyning in die hof op 22 April 2013 het sy prokureur, Themba Mjoli, aangevoer Ntshongwana ly aan “waanbeeldversteuring” en kan nie die misdade waarvan hy aangekla word onthou nie. Daar het reeds verskeie verdoemende bewyse teen hom in die hof aan die lig gekom.

Mjoli het ook aan die hof gesê Ntshongwana word al sedert 2009 vir sy geestestoestand behandel.

Na intensiewe sielkundige waarneming het dokters bevind dat Ntshongwana geskik is om verhoor te word.

Lees ook:
Meer bewyse in moordsaak van oud-Bloubul
Verdoemende bewyse in oud-Bloubul se moordsaak
Voormalige Bloubul ly glo aan waanbeeldversteuring, vermoor glo vier met byl

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae