Oud-bokser daag nie by hof op nie

Gerrie Coetzee, ʼn voormalige swaargewig bokskampioen, het nie Donderdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn nie, omdat hy glo siek is.

Maroela Media het vroeër vandag berig hy is in die sop omdat hy glo ‘n ongeregistreerde kunsgebit-onderneming bedryf het. Die 57-jarige Coetzee, wat in Table View woon, word daarvan beskuldig dat hy in Oktober 2010 valstande vervaardig het sonder dat hy by die Suid-Afrikaanse Tandheelkundige Raad geregistreer is.

Joshua Greeff, sy prokureur, het gesê hy kon nie vandag in die hof verskyn nie weens “mediese redes”. “Die nodige vertoë is egter aan die direkteur van publieke vervolging voorgelê,” sê Greeff.

Landdros Jasthree Steyn het gesê Coetzee het ʼn waarskuwing gekry. “ʼn Hofbevel is uitgereik vir sy inhegtenisname. Die hofbevel sal teruggehou word tot 7 September wanneer die saak weer hervat word,” het Steyn gesê.

Indien Coetzee skuldig bevind word, kan hy met tot R10 000 beboet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.