ʼn Voormalige Olimpiese fietsrykampioen van Switserland het ʼn kettingbotsing van sewe voertuie veroorsaak waarin hyself en 10 ander mense beseer is.
Robert Dill-Bundi (54), wat die individuele kategorie in 1980 tydens die Olimpiese Spele in Moskou gewen het, het Donderdag glo twee ongelukke in Aigle, Switserland, veroorsaak, het Le Matin-koerant berig. “Ek is baie geskok oor wat gebeur het,” het Dill-Bundi, wat met sy BMW gery het, gesê.
Volgens die polisie het die motoris, wat hulle nie uitgeken het nie, eers ʼn ander voertuig getref nadat hy ʼn rooi verkeerslig verontagsaam het voordat hy ʼn paar honderd meter weggejaag en toe ʼn kettingbotsing van sewe voertuie veroorsaak het.
Een van die beseerdes is in ʼn ernstige toestand en Dill-Bundi is steeds in die hospitaal en sal binnekort deur die polisie ondervra word, het Le Matin berig.