Oud-LUR moet hof toe vir aanranding, intimidasie

Beeldmateriaal van die sekuriteitskameras by die tolhek waar die vermeende voorval plaasgevind het

Siphosezwe Masango, voormalige LUR vir menslike nedersetting in Mpumalanga, en sy twee lyfwagte word ondersoek vir beweerde aanranding en intimidasie, het die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) Woensdag gesê.

“Masango en sy lyfwagte word daarvan beskuldig dat hulle Gert van der Merwe (39) op 9 Julie 2012 by die Nkomazi-tolplaza aangerand het nadat hy die lyfwagte gewaarsku het oor hulle roekelose bestuur,” het Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, gesê. “Ek kan bevestig dat die LUR en sy twee lyfwagte op 7 Oktober in die Barberton-landdroshof moet verskyn op aanklag van aanranding en intimidasie.”

ʼn Klag is by die Kaapmuiden-polisiestasie ingedien en die saak is toe na Opod verwys, aangesien die lyfwagte onder die Suid-Afrikaanse Polisiediens val.

Van der Merwe het glo aan Beeld-koerant gesê dat Masango se wit Mercedes-Benz, wat met blou ligte toegerus is, teen ʼn hoë spoed motors op ʼn sperstreep verbygesteek het. Die motors het glo in die ry gestaan en wag om deur die tolhek te beweeg.

Volgens die berig het Van der Merwe agter Masango by die tolhek gestop en geskree dat die bestuurder roekeloos bestuur. Masango se lyfwagte het toe glo uit die motor geklim en hom genader. Een van die lyfwagte het na bewering ʼn pistool by hom gehad en die ander lyfwag het pepersproei gehad. Van der Merwe sê hy het ʼn hou teen die kop gekry en is met pepersproei gespuit.

Hulle het hom glo agternagesit toe hy na die Kaapmuiden-polisiestasie toe gegaan het om ʼn klag te lê.

Premier David Mabuza het Masango in Februarie as LUR afgedank en Andries Gamede in sy pos aangestel. Hy het bevind dat die departement slegs 3 900 huise, uit ʼn doelwit van 10 980 huise vir die 2012/2013 finansiële jaar opgerig het.

Die ANC in Mpumalanga het onderneem om ʼn interne ondersoek teen Masango van stapel te stuur.

“Ek het in die koerant van die saak te hore gekom, en as ʼn party hou ons vol dat Masango onskuldig is totdat hy deur ʼn hof skuldig bevind word,” het Lucky Ndinisa, provinsiale sekretaris van die ANC, gesê. “Ons sal egter ons eie ondersoek intern afhandel, en indien hy skuldig is, sal ons die bevindings en die straf wat die party bepaal het, bekend maak.”

Die DA in Mpumalanga het die Opod-ondersoek verwelkom. “Alhoewel die DA Masango se hofverskyning in Oktober verwelkom, hoop ons dat sy gevolglike afdanking hom nie die geleentheid sal bied om aanspreeklikheid te ontduik vir sy gedrag, terwyl hy in die kabinet gedien het nie,” het Anthony Benadie, provinsiale leier van die DA, gesê.

Masango was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.