Oud-Maties stem oor koshuiskarakter en transformasie

Universiteit van Stellenbosch

ʼn Omstrede nuwe koshuisplasingsbeleid vir die Universiteit van Stellenbosch (US) sal na verwagting vanaand ʼn vol saal oud-Maties na ʼn buitengewone alumni-vergadering lok om daaroor te stem. Ingevolge die nuwe beleid word senior studente se verblyf in koshuise beperk, sal oud-Maties se kinders moeiliker in ʼn koshuis waar hul familie was plek kry en sal ras ʼn belangrike faktor wees in toelating tot koshuisverblyf. ʼn Vroeëre weergawe  het bepaal dat slegs 45% van studente in koshuise Afrikaans as huistaal moes hê.

Die buitengewone vergadering is byeengeroep ná ʼn mosie téén die koshuisplasingsbeleid deur meer as ʼn honderd oud-Maties verlede jaar. Volgens die voorsteller van die mosie, Willie Liebenberg, is die besondere koshuislewe “deel van die kulturele en intellektuele bates van die US,” maar gaan die nuwe beleid “ongetwyfeld die unieke karakter van die koshuislewe aan die US skaad.”

In ʼn kettingbrief wat per e-pos versprei word, word oud-Maties aangemoedig om Liebenberg se mosie te steun, asook die wysiging wat hy vanaand aan die mosie gaan voorstel. Die wysigings behels dat die US gevra word om ʼn alternatiewe regverdige, nie-rassige en deursigtige beleid te formuleer. Volgens die voorgestelde wysiging aan die mosie is die US se nuwe koshuisplasingsbeleid onaanvaarbaar omdat dit:

“1) vaag is en ontbreek aan betekenisvolle inhoud; 2) in die algemeen swak geformuleer en uiteengesit is; 3) alle betekenisvolle beleidsbevoegdhede rakende koshuisplasings aan universiteitsbestuur oordra; 4) indruis teen die US se verbintenis tot nie-rassigheid en die behoud van Afrikaans; en 5) ‘n ondeursigtige en onverantwoordbare koshuisplasingsproses tot gevolg sal hê.”

ʼn Tweede mosie, voorgestel deur Wiaan Visser, ondersteun egter die “transformasie en gelykheidsdoelstellings van die koshuisplasingsbeleid.” Die US se studenteraad het gister in ʼn verklaring hul steun vir hierdie tweede mosie uitgespreek, maar na wat verneem word is daar onder koshuise groot ongelukkigheid oor die SR se besluit.

Die Burger berig dat Wilgenhof, die universiteit se oudste koshuis, na aanleiding van ʼn besluit deur Wilgenhof se oud-inwoners, teen die koshuisplasingsbeleid gekant is. Op Facebook het ʼn ander koshuis, Huis Marais, se primarius teenoor inwoners bevestig dat hy sy stem dik sou maak by gisteraand se vergadering van primariusse.

Oud-Maties wat vanaand om 19:00 by die vergadering in die Endler-saal van die US-konservatorium teenwoordig is, sal vir die mosies vír of téén die nuwe koshuisplasingsbeleid kan stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anniekie ·

Hulle het al die universiteite wat deur ons voorgeslagte opgerig is, geinfiltreer, ons taal uitgeskop en ons kinders verwilder. Dit is presies die teenoorgestelde van wat ons in die apartheidsjare vir hulle gedoen het. Bv is daar vir hulle in 1976 (37jr gelede) ‘n Universiteit gebou, slegs swart studente toegelaat, nl MEDUNSA (Mediese Universiteit van Suid-Afrika), geleë in Garankuwa. Daar is hulle opgelei as Mediese Dokters, Tandartse en Veeartse. Standaard is gelykstaande aan UNISA. Hulle praktiese opleiding is by die aangrensende hospitaal gedoen nl Garankuwa-hospitaal (nou Dr George Mukhari) (is nie seker van die spelling nie). Garankuwa-hospitaal is die 2de grootste hospitaal in SA en ook in Afrika en beskik oor die mees modernste toerusting en fasiliteite en het ook supergespesialiseerde afdelings.
Miskien moet hulle aandag bietjie daarop gevestig word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.