Jan Dreyer (55), ʼn afgetrede polisiebeampte, is Donderdagoggend dood aangetref in sy huis in die Paarl.
Lt.kol. André Traut, ʼn polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê die Paarl-polisie het in die vroeë oggendure op sy liggaam afgekom.
“Die polisie het reageer op versoek van ʼn buurman, wat bekommerd was omdat Dreyer se honde aanhoudend geblaf het en hy nie op hul oproepe reageer nie,” het Traut gesê.
“Daar word vermoed dat hy vir ʼn geruime tyd in sy huis was voor sy liggaam gevind is.” Dreyer het alleen gebly.
Traut het gesê daar was geen tekens van geforseerde toegang tot sy huis nie. Dit is ook nie in die stadium bekend of enigiets uit die huis gesteel is nie.
ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen om die oorsaak van sy dood te bepaal.