Oud-polisieman skiet vrou, ander en homself

crime-scene-tape-320x191ʼn Voormalige polisieman is dood nadat hy oor die naweek in Odendaalsrus in die Vrystaat vier mense geskiet en motors aan die brand gesteek het voordat hy selfmoord gepleeg het.

Kapt. Stephen Thakeng, ʼn polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het Maandag gesê die voorval het by die man, Jan Letshele (62), se huis in die Kutlwanong informele nedersetting plaasgevind. “Letshele het glo Vrydagaand sy vrou aangerand, waarna ʼn buurman die polisie ontbied het,” het Thakeng gesê.

Twee beamptes het op die oproep reageer. Toe hulle by Letshele se huis opgedaag het, het Letshele vir hulle gesê hy het ʼn vuurwapen en dat hulle die perseel moet verlaat. Die polisiebeamptes is uit die huis en het meer hulp ontbied.

“Die man het sy vrou gyselaar gehou. ʼn Buurman het intussen by die huis opgedaag en met Letshele  probeer onderhandel. Terwyl hulle gepraat het, het Letshele die deur oopgemaak, waarna sy vrou daarin kon slaag om uit die huis te hardloop,” het Thakeng gesê. Nog polisielede het in daardie stadium by die toneel opgedaag.

Die man het toe op sy vrou losgebrand en haar vier keer getref. Sy is drie keer in die maag en een keer in die knie geskiet. ʼn Polisiebeampte en ʼn man en ʼn vrou op die toneel is ook geskiet.

Letshele het daarna teruggehardloop in sy huis in en sy drie voertuie, ʼn Tata Indici, ʼn Mercedez-Benz en ʼn Toyota-bakkie, aan die brand gesteek. Dié brand het na die huis versprei en Letshele se kombuis het ook begin brand.

Letshele het homself hierna in die kop geskiet. Hy en die beseerdes is na hospitale in die omgewing geneem.

Letshele het Saterdag aan sy beserings beswyk. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.