Oud-polisieman vas oor ammunisie, uniforms

ʼn Voormalige polisieman is by sy huis in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, in hegtenis geneem nadat daar onder meer polisie-uniforms en ammunisie in sy besit gevind is.

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, sê die 47-jarige oud-polisieman se arrestasie kom na ʼn gesamentlike operasie deur die Valke en die nasionale intervensie-eenheid. Phiyega sê die polisie het die man se huis deursoek en op ammunisie, ʼn groot bedrag kontant waaronder Amerikaanse doller, ʼn bloulig en polisie-uniforms beslag gelê. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê die man was vroeër ʼn sersant by die Klipgat-polisiestasie en is 2010 uit die polisie geskors nadat hy van huisroof aangekla is. “Die man is glo deel van ʼn bende wat hul as polisiebeamptes voordoen en niksvermoedende mense in Pretoria en omliggende gebiede teiken.” Ramaloko sê hul verwag om nog mense in hegtenis te neem. Die oud-polisieman sal Maandag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.