Oud-SAID-beampte en haar man gevonnis oor bedrog

Argieffoto

Bronwyn Tanya Masters Goldman en haar man, Neil Goldman, is Dinsdag gevonnis nadat sy bedrog van meer as R6 miljoen teenoor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gepleeg het.

Bronwyn, ʼn voormalige senior SAID-beampte, en Neil, het skuldig gepleit en is kragtens ʼn ooreenkoms in die Bellville-streekshof gevonnis.

Bronwyn is 15 jaar tronkstraf opgelê waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat sy nie van bedrog, vervalsing of uitgifte skuldig bevind sal word nie.

Neil is effektief agt jaar tronkstraf opgelê wat in sy geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy word ook aan 36 maande korrektiewe toesig onderwerp.

Die hof het hul bereidwilligheid om skuldig te pleit en die feit dat hulle vier klein kinders het, in ag geneem. Die egpaar het skuldig gepleit op meer as 200 aanklagte insluitend bedrog en vervalsing.

Bronwyn het as ʼn oudit-spanleier by SAID gewerk en is opgelei om programme te gebruik wat vir die administrasie van BTW benodig word. Haar verantwoordelikheid was om BTW-terugbetalings aan verkopers toe te ken, toesig te hou daaroor en goed te keur. Sy het die stelsel egter manipuleer en ʼn totaal van R6.08 miljoen in haar man se bankrekening inbetaal onder die dekmantel van BTW-terugbetalings vir sy paneelklop-onderneming.

“SAID kon ʼn totaal van R1.947 miljoen van die gesteelde geld herwin,” het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, gesê.

Die hof het gehoor die egpaar het hul huis verkoop om SAID terug te betaal en die balju het die paneelklop-onderneming verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.