Monica Spear Mootz (29), ʼn voormalige Mej. Venezuela, en haar man, Thomas Henry Berry (49) is Maandagaand in Venezuela glo deur ʼn groep gewapende rowers doodgeskiet.
Die voormalige model, wat nou in Miami bly, en haar man, wat in Londen bly nadat hulle glo van mekaar geskei is, was saam in Venezuela met vakansie, berig El Universal.
Hulle is glo oorval toe hul voertuig onklaar geraak het.
Hul vyfjarige dogter is beseer nadat sy tydens die voorval in die been geskiet is.
Die rowers het gevlug en die egpaar se liggame is in hul motor aangetref. Die dogter is na ʼn hospitaal gehaas waar sy onder polisiebewaking behandel word.
Spear Mootz, wat in 2004 as Mej. Venezuela gekroon is, het later ʼn telenovela-aktrise in Venezuela geword. Sy het in 2011 in Telemundo se Flor Salvaje verskyn.
Sy sou volgende week na Florida terugkeer.
Honderde aanhangers het op haar Instagram-rekening hul medelye betoon waar sy, ses ure voor haar afsterwe, ʼn video opgelaai het (dié video volg onderaan die berig).
Intussen berig die Daily Mail dat vyf mans, waarvan twee glo jonger as 18 jaar oud is, in hegtenis geneem is.