Oud-spioen van Rwanda in JHB vermoor

Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg Foto: michelangelo.tova.co.za

Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg Foto: michelangelo.tova.co.za

ʼn Voormalige spioenasiehoof van Rwanda is in sy hotelkamer in Sandton, Johannesburg vermoor, het die Gautengse polisie Donderdag gesê.

“Patrick Karegeya se liggaam is Woensdag omstreeks 17:30 by die hotel in Maudeweg opgespoor,” het lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, gesê. “Sy nek was opgeswel.”

ʼn Bebloede handdoek en tou is in die hotelkamer se kluis opgespoor.

“Daar is ʼn moontlikheid dat hy verwurg is,” het sy gesê.

Karegeya (53) het Sondag by die hotel ingeboek. Hy was die voormalige hoof van Rwanda se buitelandse intelligensiediens en bly al ʼn aantal jaar in Suid-Afrika in ballingskap.

“ʼn Saak van moord is by die Sandton-polisie aanhangig gemaak en die ondersoek duur voort,” het Mogale gesê.

Eyewitness News het Donderdag berig sy liggaam is in die Michelangelo Towers opgespoor.

Fank Ntwali, voorsitter van die Rwanda National Congress (RNC), die opposisieparty, het in ʼn verklaring aangevoer Kareyega is deur pres. Paul Kagame se agente vermoor. Die regering in Rwanda het dit ten sterkste ontken.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.