Oud-Springbok glo vermoor

Die voormalige Springbok-losvoorspeler, Solly Tyibilika, is glo Sondagmiddag in Kaapstad doodgeskiet.

ʼn Rugbykommentator van SuperSport, Kuanda Ntunja, het op die sosiale netwerk Twitter aangekondig Tyibilika (32) is vermoor. “Ek het pas die skokkende nuus gehoor. Ek is pas vertel dat hy geskiet en vermoor is in Kaapstad. RIP Solly Tyibilika.” Volgens Ntunja het ʼn voormalige Saru-speler, Makhaya Jack, aan hom bevestig dat Tybilika dood is. ʼn Senior rugbyskrywer van die Times, Craig Ray, het op Twitter gesê ʼn polisiewoordvoerder het aan hom bevestig dat Tyibilika vermoor is. ʼn Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het bevestig dat ʼn man Sondagmiddag in ʼn kroeg in Gugulethu doodgeskiet is. Hy kon egter nie die oorledene se naam verskaf nie. Van Wyk sê twee mans het by die kroeg ingestap en begin losbrand. Hy sê twee mense is beseer en ʼn man in sy 30’s het aan sy wonde beswyk. Tyibilika (32) het agt toetse vir die Springbokke gespeel tussen 2004 en 2006. Hy het provinsiale rugby vir Griekwas, die Sharks, die Goue Leeus, die Southern Kings en Grens gespeel. Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie het intussen gesê hy is hartseer oor die nuus van Tyibilika se dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.