Oud-Springbok van swendelary verdink

Thys Burger. Foto: EWN

Thys Burger, ʼn voormalige Springbok-rugbyspeler, word verdink van swendelary nadat hy glo sy Springbok-status gebruik het om geld by liefdadigheidsorganisasies in te samel.

Burger het glo meer as R35 000 tydens ʼn veiling vir die Muldersdrift Business Women’s Association ingesamel en het hulle daarna glo probeer ontduik.

“Ná die geleentheid het ons niks van hom gehoor nie, ons het nie enige e-posse ontvang nie en daar was geen verskonings nie,” het Laurice Matulovich, van dié nie-winsgewende organisasie gesê. “Hy het ons net ignoreer en seker gehoop ons gaan weg.”

Hoërskool Bryanston het dieselfde stel afgetrap. Willem Grobler van die skool kon hom ook nie ná ʼn veiling opspoor nie. “Verskeie e-posse is gestuur, verskeie mense en selfs ouers, het hom tevergeefs probeer kontak,” sê Grobler.

Burger het aan EWN erken dat hy nie alle geld wat hy tydens die veilings ingesamel het, uitbetaal het nie. Hy sê hy was in ‘n finansiële verknorsing en kon nie al sy verpligtinge nakom nie. Hy beweer hy kon nie die skool en organisasie betaal nie, omdat mense hom glo geld geskuld en dit ʼn kettingreaksie veroorsaak het.

Hy het sedert EWN die gerugte vandeesweek begin ondersoek het, R50 000 uitbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.