Ouditeur-skiet: Polisie swyg oor moontlike sluipmoordaanval

Lawrence Moepi

Lawrence Moepi

Die polisie is Maandag steeds op soek na die mans wat ʼn Lawrence Moepi, ʼn forensiese ouditeur, Vrydag by sy kantoor in Houghton, Johannesburg, doodgeskiet het.

“Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê.

Die media het gespekuleer of Moepi moontlik in ʼn sluipmoordaanval gesterf het. “Ons het nog nie ʼn motief nie,” het Dlamini hierop gesê.

Moepi is vermoedelik deur mans in ʼn Volkswagen Golf na sy kantoor by SizweNtalubaGobodo agtervolg. Hy is doodgeskiet toe hy uitgeklim het. Niks is gesteel nie.

Die Vereniging vir Openbarerekeninge-komitees van Suid-Afrika (APAC) het versoek dat sy lede beskerm word ná Moepi se afsterwe, het die Times Maandag berig. “Dit is ʼn bedreiging vir alle forensiese ouditeurs en kan moontlik daartoe lei dat die bedryf gehalte ouditeurs kan verloor omdat hulle vrees vir hulle lewe,” het Sipho Makama, voorsitter van APAC, gesê.

Moepi was glo betrokke by verskeie ondersoeke.

SizweNtsalubaGobodo het op sy webwerf gesê Moepi het nou saam met die polisie se handelsmisdaadeenheid en die voormalige Direktoraat van Spesiale Operasies (Skerpioene) gewerk.

Moepi het in sy kapasiteit as direkteur van forensiese dienste by PricewaterhouseCoopers in die bedrogsaak van Geoffrey Ledwaba getuig. Ledwaba is ʼn voormalige amptenaar van die Skerpioene.

Business Day Live het berig dat Moepi aangestel is om die land se multi-miljardrandse wapentransaksie te ondersoek.

Die Sunday Independent berig Moepi was ʼn integrale deel van die span wat die verkope van die vakbondfederasie Cosatu se hoofkantoor in Braamfontein, Johannesburg, ondersoek het. Dié gebou is glo vir R10 miljoen minder as sy markwaarde verkoop. Zwelinzima Vavi, geskorste uitvoerende hoof van Cosatu, is deur talle vennote van die vakverbond beskuldig van wanhantering van die transaksie.

EyeWitness News het berig Moepi het ook ondersoeke namens Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, hanteer het.

Madonsela het Maandag gesê Moepi het as ʼn eksterne ouditeur vir haar kantoor gewerk en het reeds ten minste een saak afgehandel terwyl hy aan ʼn hele aantal sake gewerk het.

Dlamini sê hy kan nie kommentaar lewer oor die moontlikheid dat Moepi geskiet is weens ʼn ondersoek waaraan hy gewerk het nie. “Ek kan nie daaroor kommentaar lewer nie, julle moet met sy maatskappy praat,” het hy gesê.

Lees ook:
Direkteur by ouditeursfirma doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.