ʼn Woordvoerder van die ANC, Keith Khoza, sê Shiceka (45) is Maandagoggend in ʼn hospitaal in die Oos-Kaap dood nadat hy vir lank siek was. Shiceka is in Oktober verlede jaar deur president Jacob Zuma as minister afgedank. Shiceka is vroeër verlede jaar in omstredenheid gedompel nadat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, bevind het dat hy vir Zuma gelieg en bedrog gepleeg het. Sy het onder meer bevind dat hy op staatskoste in peperduur hotelle tuisgegaan het. Shiceka is ook daarvan beskuldig dat hy gelieg het oor ʼn besoek aan ʼn vriendin in ’n Switserse tronk. Hy het glo meer as R550 000 tydens die besoek verkwis. Hy het sedert 2009 ook glo meer as R521 000 verkwis op hotelverblyf. Shiceka was sedert Februarie verlede jaar op siekteverlof tot hy in Oktober afgedank is.
Shiceka is op 11 Mei 2009 as minister van samewerkende regering en tradisionele sake aangestel. Hy was voor dit die minister van provinsiale en plaaslike regering in die kabinet van Kgalema Motlanthe. Hy was ook ʼn lid van die parlement in die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies. Hy is 2007 as lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies. Shiceka is op 8 Junie 1966 gebore.