Oudrektore onderskryf Akademia en moedertaalonderrig

ʼn Nuwe era vir opleiding in Afrikaans is vandag ingelui toe Akademia, die nuwe inklusiewe Afrikaanse hoër onderwysinstelling van die Solidariteit Beweging, hul kwalifikasies aan die eerste afgestudeerde studente toegeken het. Tydens die geleentheid is die nuut saamgestelde adviesraad ook bekendgestel en verwelkom. Hierdie adviesraad bestaan uit gerespekteerde akademici en oudrektore soos proff. Annette Combrinck, Flip Smit, Andreas van Wyk en Marinus Wiechers.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sê 10 studente is tydens die promosieplegtigheid in Centurion met ʼn geakkrediteerde NQF Vlak 5-kwalifikasie bekroon. Die 10 studente het gedurende 2012 afgestudeer. Die meeste van hulle was werkende studente wat klasse nauurs bygewoon het. Visser sê lewenslange leer is vir alle mense die sleutel tot sukses in die moderne kennislandskap. “Matriek is slegs die begin van jou studieloopbaan en nie die einde daarvan nie. Sowat 50% van werklose mense in Suid-Afrika beskik oor ʼn matriekkwalifikasie.”

Akademia se unieke onderrig-leermodel is in 2012 aan die publiek bekendgestel. Dit bied aan veral werkende mense die geleentheid om toegang tot hoër onderwys in hul gemeenskappe te kry deur ten volle geakkrediteerde universiteitsvlakprogramme nauurs in Afrikaans te studeer.

Die promosieplegtighede van Akademia se twee diplomaprogramme in kleinsakebestuur en entrepreneurskap, sowel as dié van bemarking sal onderskeidelik in 2014 en 2015 plaasvind wanneer die eerste studente dié programme suksesvol sal voltooi het. Hierdie programme, tesame met moontlike graadstudie wat vir 2014 beplan word, fokus vir eers op die  handelswetenskappe.

Akademia het studiesentrums in Centurion, Pretoria-Moot, Vanderbijlpark, aan die Oos-Rand, Wes-Rand en in Stellenbosch. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.