‘Ouers het baba gelos om in pyn te sterf’

Marissa Rudman tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Masi Losi, Pretoria News

Die staat het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer dat Marissa Rudman en haar voormalige kêrel Nolan Schoeman, wat skuldig bevind is aan die moord op hul twee maande oue baba, die maksimum straf verdien.

Cornelia Harmzen, namens die staat, sê 15 jaar tronkstraf is moontlik ʼn “te ligte vonnis” vir die moord op die twee maande oue Wade. Sy sê die hof het die diskresie om Rudman en Schoeman tot lewenslange tronkstraf te vonnis. Regter Cynthia Pretorius sê Wade het “geweldig gely” die laaste twee weke voor sy dood. “Niemand neem verantwoordelikheid daarvoor nie. Tot nou toe het niemand nog aan die hof gesê wat gebeur het nie.” Harmzen sê die beweerde mishandeling en moeilike kinderjare wat die beskuldigdes glo deurgemaak het, is ʼn versagtende faktor maar dat dit nie wesenlik of dwingend genoeg is om ʼn ligter straf te regverdig nie. Harmzen sê nie Rudman of Schoeman het berou getoon nie en dat hulle nie eerlik was met die hof nie en eerder besluit het om mekaar te blameer. Rudman en Schoeman word op 5 Maart gevonnis.

Rudman en Schoeman is vroeër skuldig bevind aan die moord op Wade, wat op 7 April 2009 in die Steve Biko-hospitaal aan sy beserings beswyk het. Wade se brein het só erg geswel dat sy skedel begin kraak het. Hy het ook twee gebreekte arms, 22 gebreekte ribbes en groot kneuswonde aan sy kop en lyfie gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.