Ouers kla kleuterskool aan ná baba glo geskud is

Nashaé Retief. Foto: BBM

Die ouers van ʼn babadogtertjie, wat weens babaskud-sindroom moontlik blind gelaat is en dalk breinskade opgedoen het, het ’n klag van kindermishandeling teen ‘n kleuterskool by die polisie aanhangig gemaak.

Die ses maande oue baba is só erg beseer dat dokters haar aanvanklik net ’n 50%-kans op oorlewing gegee het, het Beeld Vrydag berig.

Volgens Looklocal Pretoria East woon die babatjie, Nashaé, se ouers, Henk en Natasha Retief, in Moreletapark in die ooste van Pretoria.

Beeld berig die egpaar het Nashaé verlede Woensdag by haar kleuterskool in Faerie Glen gaan aflaai. Die skool het hulle omstreeks 10:00 geskakel en gesê die dogtertjie kan nie asem kry nie en dat sy deur personeel na die Faerie Glen-hospitaal gehaas word. Daar is Nashaé bygebring, waarna sy met ʼn ambulans na die Wilgers-hospitaal oorgeplaas is. Sy het aanhoudend aanvalle en stuiptrekkings gekry.

By die Wilgers-hospitaal het ʼn pediater aanvanklik gedink sy het breinvliesontsteking, maar toetse kon dit nie bevestig nie. ʼn Pediatriese neuroloog het daarna breinskanderings gedoen, wat getoon het dat Nashaé bloeding en swelling op haar brein het. Sy het ook retinale bloeding gehad.

Die neuroloog het haar met babaskud-sindroom gediagnoseer, het Beeld berig. Nashaé word steeds in die hospitaal behandel.

Die eienaar van die Babbelbekkie-kleuterskool het in ’n verklaring gesê hulle weet nie wat Nashaé se toestand kon veroorsaak het nie.

– Sapa / LookLocal Pretoria East

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B Nel ·

Hi ek is so jammer vir die ouers. Julle is in my gebed dat julle kleinding gesond sal word.
Ek is ‘n kleuterskool juffrou vir 21jaar. Ek glo dit is my werk wat ons Vader vir my gegee het. So kan ek sy woord versprei deer vir Sy kinders meer van Hom te leer. Dit maak my so hartseer as so iets gebeur. My kinders in my klas is soos my eie kinders ek het elkeen van hulle baie lief. Hulle kruip diep in mens se hart in en dit is nie lekker as ek hulle moet afsien aan die einde van die jaar. As jy met kinders werk net om ‘n werk te hê ,want dit is nie vir die geld ons kry maar min en nie vir die liefde vir kinders nie hoort jy nie met God se grootste besitings te werk nie.
Groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.