Ouers wat glo baba vermoor se saak uitgestel

Die verhoor van ʼn man en vrou wat glo hulle twee maande oue babaseuntjie vermoor het sal op 16 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof hervat word.

Nolan Schoeman en sy vriendin Marissa Rudman, van Valhalla, Centurion, word van moord en kindermishandeling aangekla nadat hulle glo hulle baba, Wade Baron Schoeman, van 26 Maart tot 4 April verlede jaar so erg aangerand dat hy op 7 April verlede jaar dood is. ʼn Derde advokaat is die week aangestel om Rudman te verdedig nadat die vorige twee advokate van die saak onttrek het, glo weens ʼn gebrek aan samewerking van Rudman. Schoeman se borg is verlede jaar herroep nadat hy by twee geleenthede nie vir sy verhoor opgedaag het nie. Hy bly in aanhouding. Die baba is in Maart 2009 met longontsteking in die hospitaal opgeneem. Rudman het hom egter glo self ontslaan en geweier dat hy enige verdere mediese behandeling ontvang. Die baba is egter ʼn week later by ʼn ander hospitaal opgeneem toe hy reeds baie siek was en met veelvuldige beserings. Hy het onder meer ʼn voorarmfraktuur en breinbloeding opgedoen. Volgens die staat is hy aan ʼn kopbesering dood. Die staat beweer ook dat die paartjie tussen Desember 2006 tot April 2009 nog ʼn minderjarige seun mishandel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.