Twee mans is in Singapoer in hegtenis geneem nadat ʼn rusbank, wat uit die vierde verdieping van ʼn gebou gegooi is, byna ʼn verbyganger getref het.
Die vrou, in haar 40s, het op Oujaarsaand verby die gebou gestap toe ʼn tweesitplekrusbank reg voor haar geland het, het die Shin Min Daily in China berig.
Die vrou het die polisie ontbied en hulle het drie mans ondervra. Twee van die mans is in hegtenis geneem.
Die mans voer aan hulle moes die rusbank vir ʼn vriend skuif, het die Straits Times berig.
Intussen is ʼn gewoonte in Hillbrow, Johannesburg, om meubels uit vensters van hoë geboue te gooi, in ʼn peiling as die vierde vreemdste gebruik op Oujaarsaand aangewys. Die sosialemedia-webwerf Badoo.com het 7 200 gebruikers in 18 lande gevra om vir die vreemdste en prettigste Oujaarsgebruike te stem.
Die gebruik in Talca, Chili, om Oujaarsaand in ʼn begraafplaas saam met afgestorwe familielede te spandeer, is wêreldwyd as die vreemdste gebruik aangewys.
Die gebruik in Roemenië, om te luister of jy diere kan hoor praat, is as die tweede vreemdste gebruik aangewys. As jy onsuksesvol is, word dit as goeie geluk beskou.
In die derde plek is ʼn gewoonte in Ierland om jou kop teen ʼn muur te stamp om van “bose geeste” ontslae te raak.
Die massasoenery in Venesië, Italië, die dra van rooi onderklere in Meksiko vir goeie geluk en ʼn drie dag lange watergeveg in Thailand is as die prettigste gebruike aangewys. Hillbrow-inwoners se gebruik om meubels uit te gooi het ook die vierde plek gehaal in die prettigste Oujaarsgewoontes.
-SAPA