Oupa se ‘rassisme’: Gesin verloor asiel-aansoek

‘n Wit Suid-Afrikaanse gesin se aansoek om asiel is deur ‘n hof in Amerika afgekeur.

Die gesin van Durban, ‘n egpaar met twee kinders, beweer hulle verkeer in gevaar in Suid-Afrika, aangesien een van hul familielede rassisties opgetree het, en dié slagoffers wreek hulle nou op die gesin. “Dit is nie oor swart teen wit nie,” het Errol Horwitz, die gesin se prokureur, aan die Sunday Times gesê. “Hulle is spesifieke teikens vir vergelding van die slagoffers van ‘n ander persoon se rassisme.”

Horwitz sê die gesin se oupa aan vaderskant het glo sy werknemers by ‘n konstruksiemaatskappy in Suid-Afrika mishandel. Die vrou het in die Amerikaanse hof getuig dat, weens die oupa se beweerde rassisme, is haar hond vergiftig, is hul huis met menslike ontlasting gegooi, is sy gedreig en was haar dogter die slagoffer van ‘n poging tot ontvoering.

Drie regters van die Amerikaanse negende rondgaande hof van appèl het egter hul nuwe aansoek om appèl afgekeur. Die hof het vroeër bepaal dat, aangesien die oupa reeds afgetree het, daar geen geloofwaardige bedreiging vir die gesin kan bestaan nie. Die gesin spandeer al die afgelope 15 jaar lank in verskeie howe om asiel te bekom. Horwitz sê die kinders sal moontlik Amerikaanse burgerskap deur ander regskanale kan bekom.

Die ouers is egter nou “effektief ongedokumenteerde migrante”. “Die gesin is platgeslaan deur die uitspraak,” het Horwitz bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.