Argeoloë het op die oudste bewyse van kindermishandeling afgekom terwyl hulle met opgrawings by ‘n antieke oase in die weste van Egipte besig was.
ʼn Ondersoek op die geraamte van die kind, wat tussen twee en drie jaar oud was, het aangedui dat daar beenbreuke in die kind se armpies was, asook ‘n gebreekte skouerbeen en gebreekte ribbes.
Nadere ondersoek het aan die lig gebring dat die kind in sy kort leeftyd verskeie beenbreuke opgedoen het wat in verskeie stadia van heling was. Hy het dus gereeld dié soort beserings opgedoen, wat die moontlikheid van beserings as gevolg van ‘n ongeluk uitgesluit het.
Die kind is sowat 2 000 jaar gelede dood, wat dit die oudste bewysbare geval van kindermishandeling maak. Ander voorbeelde wat tot dusver wêreldwyd ontdek is, dateer uit die Middeleeue en later.
Die opgrawings by die Dakhleh-oase dui daarop dat die mishandelde kind ʼn uitsondering was. Die inwoners het klaarblyklik hul kinders baie beskermd grootgemaak.