Outa, Cosatu se e-tol-beroep ‘ondermyn’ grondwet

tol-300x19911Die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) en die vakverbond Cosatu se beroep op motoriste in Gauteng om nie vir e-tol te betaal nie “ondermyn” die land se grondwet.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer sê die beroep deur Outa en Cosatu ondermyn ook die land se regbank. “Die komitee is bekommerd oor die feit dat die twee organisasies ʼn beroep op burgers doen om nie aan ʼn wet van die parlement te voldoen nie en dus om die grondwet te verontagsaam,” het Ruth Bhengu, voorsitter van die komitee, in ʼn verklaring gesê. Bhengu sê die onlangse ondertekening van die Wysigingswetsontwerp op Vervoerwette en Verwante Sake verseker dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) hul lenings van die regering sal kan terugbetaal. “Die komitee is dus erg bekommerd dat die organisasies, na ʼn onsuksesvolle regstryd, nou op ʼn onwettige wyse hul misnoeë te kenne gee.” Sy sê Outa het nie beswaar aangeteken of insae gegee rakende die finale wysigingswetsontwerp om seker te maak dit is verteenwoordigend van hul sienings nie. “Ons is oortuig dat die uitlatings Outa en Cosatu se manier is om besluite wat deur die regbank geneem is te ondermyn en sodoende die grondwet te ondermyn.” Bhengu het ʼn beroep gedoen op Outa en Cosatu om respek vir die gereg te hê deur die howe se besluit te respekteer. “Die komitee bly by sy siening dat die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek ʼn belangrike deel is van die pogings om ʼn geïntegreerde vervoermodel te ontwikkel wat sentraal is tot die transformasie van die ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Sanral en die ANC is die laaste mense wat kan vinger wys en mense daarvan beskuldig dat hulle die land se Grondwet ondermyn! Ai dit is eintlik belaglik om te dink hulle raak die woorde kwyt. Hier het ons immers te doen met die meesters wanneer dit kom by die ondermyning van die land se Grondwet! Die grondwet bepaal ondermeer elke mens het die reg om te lewe en daarom is die doodstraf afgeskaf maar wat het geword van die duisende mense wat so vermoor word se reg op lewe wat deur die Grondwet gewarborg word? Waar wil jy nou ‘n groter ondermyning van die Grondwet kry as juis dit? As die geld wat ingevorder gaan word nog vir plaaslike instandhouding aangewend gaan word sou ek dalk daaraan gedink het om ‘n skyfie te koop, om te betaal vir die gebruik van die paaie waarvoor ek in elkgeval al oor en oor betaal het, maar 90% van die geld gaan na die buiteland en die res gaan gebruik word om boetes per geregistreerde pos te versend. So kan Sanral en die ANC groot asseblief vir my vertel hoe ons regtig gaan voordeel trek uit die e-tolpaaie. Hoe lank gaan die paaie in so ‘n goeie toestand bly dan is daar ook nie meer geld om dit in stand te hou nie. Nee wat Sanral en ANC kry maar jul miljarde wat julle so gretiglik geleen iewers anders vandaan om dit terug te betaal

AFRIKANER ·

Ek sal nie betaal nie, laat hulle ons mense wat die paaie gebruik en ten duurste bradstof betaal om te besluit,,,, maak n “voting station” oop en stop om vir ons mense te besluit wat ons wil he, want julle het nie n benul wat ons soek nie!!!

Tokkie ·

Nou moet ons respek hê vir ‘n regsbesluit van ‘n hof wat in elk geval nie onafhanklik van die regering staan nie – dit is immers die regering wat die regters se salarisse betaal of hoe?

piet ·

ZUMA HET DIE WET ONDERTEKEN OP DIESELFDE DAG AS WAT DIE HOF DAAROOR N BEVINDING MOES MAAK. DIT WAS N UIT GEMAAKTE SAAK DAT DIE HOF DAARTEEN SOU UITSPRAAK LEWER. DIE REGTER HET NET AAN SY PENSIOEN GEDINK. SO SANRAL KIES VIR JOU N VINGER, DIE MIDDEL VINGER.

Hennie van der Merwe ·

Maroela Media: Laat weet tog ASSEBLIEF vir Nico Strydom, die joernalis en skrywer van hierdie storie dat Cosato ‘n “VAKBOND” is, en NIE ‘n “vak’VER’bond nie. Asseblief mense! KOM BY!!!

Sune van Heerden ·

Dagsê Hennie, Cosatu is inderdaad ‘n “vakbondfederasie”, of “vakverbond”. Cosatu is die sambreel-organisasie van ‘n hele paar vakbonde. Dit is letterlik “Congress of South African Trade Unions” – Cosatu. Altesaam 21 vakbonde val onder Cosatu bv. South African Democratic Teachers Union (SADTU), National Union of Mineworkers (NUM), South African Municipal Workers’ Union (SAMWU), National Union of Metalworkers of South Africa (NUMSA) en Police and Prisons Civil Rights Union (POPCRU). Ons hoop dit maak nou beter sin! Beste groete, Maroela Media

Hennie van der Merwe ·

Sunè van Heerden.

Jy is heeltemal reg! Cosatu is inderdaad ‘n ” Vakbondfederasie ” en nie ‘n “Vak’verbond’federasie nie! Alles wat jy sê weet ek. Asseblief, ek kom nie uit die bosse uit nie! Jy is nog STEEDS verkeerd! Gaan doen eers ‘n bietjie navorsing voordat jy uitsprake maak! ‘n” Verbond” is iets heel anders met ‘n totale ander betekenis!

Groetnis.

Sune van Heerden ·

Dagsê Hennie,

Cosatu staan wel bekend as “vakbondfederasie” en “vakverbond“.
Vakverbond” is in die HAT opgeneem met die betekenis: “ʼn federasie van vakvereniginge” en “vakvereniging” word in die HAT verduidelik as “vakbond”.

Ons hoop dit klaar die misverstand op.
Beste groete,
Suné

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.