Outa in finansiële knyp

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) moet moontlik sy beplande hofsaak teen die implementering van die e-tolstelsel op Gautengse hoofweë laat vaar, as hy nie in die volgende drie weke ʼn ekstra R1 miljoen kan insamel nie.

Wayne Duvenhage, Outa se voorsitter, het Woensdag die media tydens ʼn perskonferensie van die Nasionale Persklub in Pretoria toegespreek

“Daar is ʼn groot moontlikheid dat ás ons nie die geld insamel nie, die saak nie verder geneem kan word nie,” het Duvenhage gesê.

Outa het tot en met 21 Junie tyd om geld in te samel om skuld aan sy prokureurs se betaal. Die genootskap het sover R8.4 miljoen ingesamel en skuld nog sowat R3 miljoen aan regskostes. Sonder die R1 miljoen betaling aan sy prokureurs, sal die saak nie verder gevoer kan word nie.

Duvenhage sê hulle het tot dusver donasies van meer as 200 besighede en sowat 7 780 individue ontvang, om tot die regskoste by te dra.

Twee organisasies het tydens die perskonferensie hul ondersteuning aan Outa bekend gemaak. Hulle is die Gautengse tak van die Black Management Forum (BMF) en die QuadPara Association. Stan Itshegetseng, ʼn komiteelid van die BMF, het gesê die forum wil die persepsie dat slegs mense met sekere velkleure belang in die saak het, uit die weg ruim. Joseph Machweu, ʼn verteenwoordiger van QuadPara, het vanuit sy rolstoel gesê dat die e-tolstelsel sy lede duur te staan gaan kom aan vervoerkostes.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het op 11 April aangekondig dat die e-tolstelsel binne die volgende twee maande in werking sal tree. Die Pretoriase hooggeregshof het in April verlede jaar ʼn interdik aan Outa toegestaan om die inwerkingstelling van die e-tolprojek op te skort totdat ʼn geregtelike uitspraak hieroor gelewer is.

Sanral en die Nasionale Tesourie het appèl aangeteken teen dié hofbevel. Die grondwetlike hof het in September die interimbevel ter syde gestel. Die Pretoriase hooggeregshof het in Desember Outa se aansoek, om die e-tolprojek te skrap, van die hand gewys.

Die hof het Outa op 25 Januarie toestemming verleen om die saak na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein te verwys. Dié verhoor sal in September plaasvind.

Besoek Outa se webwerf vir meer inligting.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Joey Odendaal ·

As al die ondersteunende organisasies se lede bydra, en hulle laat hulle bankbesonderhede op Radio Pretoria uitsaai saam met wat hulle tot nou toe gedoen het teen die e-tolstelsel glo ek hulle finansiele krisis sal gou opgelos wees!

H J Bester ·

Dei BMF (Black Management Forum) en QuadPara Ass se ondersteuning is beduidend en lofwaardig.

Joey Odendaal ·

Wat van Cosatu se bedrae – hulle hou gereeld optogte daaroor – as al hulle lede elkeen R10 donasie maak is R1 000 000 maklik inbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.