Owerhede swyg oor bewyse van konings Dawid, Salomo

Argieffoto

Moontlike politiekery het dalk ‘n rol gespeel dat die Israel se Antiekhede-owerheid ‘n blinde oog gewerp het op ‘n ondergrondse vonds suid van Jerusalem, word in ‘n artikel in The Jewish Press beweer.

Onder wetenskaplikes is groot verskille oor of daar inderdaad ‘n groot Joodse en Israelse ryk bestaan het, en selfs of Dawid en Salomo ooit werklik bestaan het. Dit word volgens die artikel deur die Palestynse owerheid ontken, en volgens die jongste afbakeningsplanne sal die vonds nou sowat ‘n honderd meter binne Palestynse gebied val.

Die vonds het aan die lig gekom toe ‘n toergids met argeologiese ervaring ‘n toeris in ‘n diep grot afgehelp het. Omdat hy die toeris gehelp het, het hy vir die eerste keer in ‘n sekere rigting gekyk, en ‘n klippilaar met die kroon bo-op waargeneem. Die toergids, Benjamin Troper, het dadelik ‘n senior argeoloog, Yaron Rosenthal, in kennis gestel, wat op sy beurt weer die Israelse Antiekhede-owerheid van dié vonds in kennis gestel het.

Dit mag moontlik ‘n deel van ‘n tempel of paleis uit die tyd van Dawid en Salomo wees, en omdat dit begrawe is, kon baie van die oorspronklike strukture behoue gebly het, en dal heelwat lig op die tydperk werp. Tot beide mans se verbasing het die owerheid hulle egter in kennis gestel dat hulle van die vonds weet, en dat hulle daarvan moet vergeet, aldus die artikel.

In reaksie het die Antiekhede-owerheid gesê hulle is bewus van die belangrike vonds, en is besig om voorbereidings te tref om dit op te grawe. Professionele argeoloë sal hulle van menings weerhou tot die vonds behoorlik ondersoek is, en ‘n artikels wat aan ‘n portuuroorsig onderwerp is, in ‘n erkende vaktydskrif gepubliseer is.

Navorsers wat opgrawings in Israel doen met die uitsluitlike doel om die historiese akkuraatheid van die Bybel te bewys, veroorsaak egter dat al hoe meer voortydige uitsprake, soms wilde bewerings, uit die Heilige Land die media haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.