Pa en seun dood ná sneeustorting in Pakistan

Marty (links) en Denali Schmidt

ʼn Pa en seun van Nieu-Seeland is dood ná ʼn sneeustorting op die wêreld se tweede hoogste bergpiek, K2, in Pakistan.

“Martin (Marty) Walter Schmidt (53) en Denali Walter Schmidt (25) het Saterdag by Kamp 3 vermis geraak,” het Manzoor Hussain, hoof van die Alpine Club in Pakistan, wat die ekspedisie gereël het, gesê. Die bergpiek is 8 611m hoog.

“Twee Sjerpas van Nepal het berig dat Kamp 3 deur die sneeustorting getref is,” het Hussain aan AFP gesê. Explorersweb het Maandag bevestig dat die twee dood is en dat hul liggame op die berg sal bly.

Verskeie sneeustortings in die gebied het bergklimmers die afgelope paar dae gedwing om na die basiskamp terug te keer. Die Nieu-Seelanders het by Kamp 3 gewag vir die weer om op te klaar.

ʼn Aparte reddingspoging is gestaak nadat drie Spaanse bergklimmers op 21 Julie in gure weer op die Gasherbrum-I-bergpiek in die Karakoram-bergreeks vermis geraak het.

Drie Iranese bergklimmers wat op 16 Julie op ʼn ander bergpiek vermis geraak het, is vermoedelik dood.

Vyf van die wêreld se 14 bergpieke wat hoër is as 8 000m is in Pakistan en sterftes onder bergklimmers is nie ongewoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.