Pa en seun veg om lewe ná kaping

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Pa en sy tienerseun veg om hul lewe nadat hulle Donderdagoggend in Comet in Boksburg deur twee kapers in die oprit van hul huis geskiet is.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die pa en seun was in ʼn Nissan Qashqai toe die kapers omstreeks 07:00 op hul toegeslaan het. “Een van die mans het die pa in die bors geskiet. Die seun is geskiet nadat hy die mans probeer konfronteer het. Die mans het met die Qashqai, en hul wegkomvoertuig, ʼn silwer Polo, van die toneel gevlug,” het Mogale gesê.

Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het gesê die pa en seun was altwee in ʼn kritieke toestand toe paramedici by die toneel opgedaag het. “Die pa moes met ʼn helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem word, terwyl die seun met ʼn ambulans na die hospitaal geneem is vir verdere behandeling,” het Steinmann gesê.

Die twee kapers is kort ná die voorval deur lede van die publiek, in samewerking met die polisie en metropolisie vasgetrek en in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op albei voertuie en ʼn vuurwapen.

Katlego het gesê die wegkomvoertuig wat die kapers gebruik het, is ʼn week gelede in Benoni gekaap. Die mans sal binnekort in die Boksburg-landdroshof verskyn op aanklag van kaping en poging tot moord. Die name en ouderdom van die slagoffers is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eugenie ·

Mens mag nie haat in jou binneste dra nie, maar ek doen. Ek hoop werklik dat hierdie ouer en seun hierdie lafhartige daad sal oorleef. Baie sterkte aan julle.

Winifred ·

Here ek bid dat hierdie skuim van die aarde afgevee word. Ek bid nou en vra die Hemelse Vader om die haat wat so opbou in hierdie land en ook in my weggevat word. Mag God Sy Helende Hande op hierdie 2 onskuldige mense plaas en hulle ten volle genees. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.