‘n Man en sy twee seuns is in hegtenis geneem nadat hulle glo sewe lede van dieselfde familie doodgeskiet het.
“Die 51-jarige man en sy seuns, onderskeidelik 28 en 30 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die Greytown-landdroshof verskyn op sewe aanklagte van moord en twee van poging tot moord,” het kol. Vincent Mdunge, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, gesê.
“Vyf gewapende mans het glo op 9 Maart vroeg in die oggend op die Mkhize-familie se huis in Muden, naby Greytown, losgebrand. Ses mans, waarvan vyf broers was, is op die toneel dood. ‘n Driejarige seuntjie het ‘n paar dae later aan sy beserings beswyk,” het Mdunge bygevoeg. ‘n Polisietaakspan wat die saak ondersoek het die 51-jarige man in Aprilmaand tydens ‘n klopjag in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. “Ballistiese toetse het later bevestig dat dié wapen in die skietery gebruik is. Die man is toe saam met sy seuns in hegtenis geneem.”
Volgens Mdunge kan nog mense in hegtenis geneem word in verband met die moorde.