Pa gebruik skarefinansiering om vir Downkind te sorg

Foto: GoFundMe

Foto: GoFundMe

ʼn Nieu-Seelandse pa het homself tot ‘n skarefinansieringswebwerf gewend om vir sy Downsindroombaba te sorg, berig Buzzfeed.

Samuel Forrest en sy seun Leo is ná Leo se geboorte deur Forrest se Armeense vrou verwerp omdat hy die baba wou hou, maar Downsindroom glo nie in dié kultuur aanvaar word nie.

Forrest het homself tot die skarefinansieringswebwerf GoFundMe gewend om geld in te samel om vir ʼn jaar lank vir sy seun te sorg.

“Met min werk, sonder geld, hulpbronne of familie, en nou ook sonder ‘n huis, wil Leo se pa Sam met hom terugkeer Nieu-Seeland toe waar hy ʼn kwaliteit lewe kan lei en aanvaar sal word. Dié soort integrasie in die samelewing is ongelukkig nog nie in Armenië moontlik nie,” lui die boodskap op die webtuiste.

Sedert die projek van stapel gestuur is, het die donasies ingestroom en volgens die webtuiste het nagenoeg 10 000 mense donasies gemaak. Forrest het aangedui dat hulle $60 000 (sowat R690 000) nodig het. Daar is egter reeds $285 710 (ongeveer R3.3 miljoen) ingesamel.

Forrest het vroeër op die webwerf almal wat ʼn bydrae gemaak het, bedank. Hy het ook verduidelik wat hulle met die geld beplan.

“Sommige van die addisionele fondse wat ingesamel is, sal aangewend word om vir ons beter lewensomstandighede in Auckland te verseker en om vir Leo beter onderriggeleenthede te kan bekostig,” het Forrest geskryf.

Hy het ook genoem dat hulle van die geld sal gebruik om fasiliteite en programme in Armenië te befonds om ouers wat hulle gestremde kinders wil hou, by te staan. Sommige van die ekstra fondse sal ook gebruik word om die enigste weeshuis in Armenië wat Downsindroombabas inneem, te ondersteun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elfie ·

‘n Wonderlike voorbeeld van opregte vaderliefde. Wens hom en sy kind net die allerbeste toe…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.