ʼn Pa van Tzaneen in Limpopo is lewenslank tronk toe gestuur vir die verkragting van sy 13-jarige dogter.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol. Mohale Ramatseba, sê Tshepiso Peter Malapane het glo in Desember sy dogter verkrag terwyl haar ma nie by die huis was nie. Hy het sy dogter met die dood gedreig indien sy haar ma sou vertel wat gebeur het. Die ma het gesien haar dogter bloei en het haar na die Mankweng-hospitaal geneem vir behandeling waar besonderhede oor die verkragting aan die lig gekom het. Die man is twee dae na die voorval in hegtenis geneem. Ramatseba sê die saak het ʼn terugslag beleef toe die ma van die meisie dood is voor die verhoor afgehandel is. “Sy was ʼn staatsgetuie. Die professionele ondersoekvaardighede van kaptein Marumo Phineas Matula het die hof oortuig dat die beskuldigde tronk toe gestuur moet word vir baie jare,” sê Ramatseba.