Pa skiet dogtertjie per ongeluk dood

ʼn 7-jarige meisie is vroeg Vrydagoggend per ongeluk deur haar pa doodgeskiet na rowers op hul huis in Lyttelton, Centurion, toegeslaan het.

Na wat verneem word, het die pa honde hoor blaf en gaan ondersoek instel. Hy het glo rowers op die grondvloer van die huis aangetref en na sy slaapkamer gehardloop, die deur toegeslaan, en sy rewolwer uit die kluis gaan haal, berig Beeld.

Die 7-jarige meisie het wakker geword en wou na haar ouers se slaapkamer gaan. Toe haar pa hoor dat daar iemand by die deur is, het hy ‘n skoot deur die deur afgevuur, onder die indruk dat dit die rowers is. Hy het sy dogtertjie in die kop getref.

Die rowers het intussen gevlug. Die meisie is na die Unitas-hospitaal geneem, waar sy aan haar wonde beswyk het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike ·

Hoe in jou dag des lewens skiet jy deur die deur as al jou mense nie agter jou is nie? Hierdie ou het nooit enige wapen opleiding ondergaan nie en moes nooit ‘n wapen besit het nie. Ongelukkig is dit ook die situasie in ons land wat nooit sal verbeter nie, wat sulke dinge veroorsaak. Net weer ‘n bewys dat selfbeskikking die enigste oplossing is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.