Pa van ontvoerde SA-man hoop op sy veilige terugkeer

Die pa van ʼn Suid-Afrikaanse man wat verlede jaar in Mali ontvoer is, is steeds hoopvol dat sy seun vrygelaat sal word.

“Ons hoop steeds dat hy sal huis toe kom, maar ons het nog niks gehoor sedert sy foto in ʼn oorsese koerant verskyn het nie.” Die 36-jarige man, wat nie geïdentifiseer kan word nie aangesien dit onderhandelings met sy ontvoerders kan belemmer, se foto is aan die regering in Mali gestuur deur die Noord-Afrika tak van Al-Kaïda. Die groep het die foto in Desember gestuur om te wys dat die man steeds leef. Die man se pa sê hulle familie probeer om die Suid-Afrikaanse regering te oortuig om hulle optrede te versterk ten einde sy seun veilig huis toe te bring. Hy is in November saam met ’n Sweed en ʼn Nederlander by Timboektoe ontvoer. ’n Duitse toeris is doodgeskiet toe hy verseg het om saam met die ontvoerders te gaan. ʼn Woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, Clayson Monyela, sê daar is nog geen nuwe verwikkelinge in die saak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.