Pa van seuntjie in ‘skokfoto’ sê dit was net ‘n grap

Die seuntjie wat in ʼn Facebook-foto gewys word waar hy leweloos lê terwyl ʼn wit man met ʼn geweer oor hom staan, is lewendig en gesond.

City Press berig die seuntjie se pa sê sy kind was nooit in gevaar nie en dat niks slegs ooit van die foto gekom het nie. Dié foto het verlede week opslae gemaak nadat die Sunday Times dit op sy voorblad geplaas het. Die foto het op die Facebook-blad van ‘n persoon genaamd “Eugene Terrorblanche” verskyn. Die foto is in 2008 geneem en volgens die seuntjie se pa was dit bedoel om ʼn grap te wees. Die pa werk die afgelope 14 jaar as voorman op die wit man se gesin se plaas in Bloemhof in Noordwes. Hy sê sy seun het dikwels saam met die wit man rondes gedoen op die plaas. Die foto is glo geneem nadat die seun tydens een van die uitstappies op die gras aan die slaap geraak het. Volgens die pa was dit snaaks dat sy seun so leweloos gelyk het terwyl hy geslaap het en het die wit man het gevra of hy ʼn foto kan neem. Die wit man het glo sy geweer by hom gehad omdat hy gereeld duiwe geskiet het. Die pa sê die wit man is baie gaaf en haat nie swartmense nie. Hy leer glo ook die swart kinders op die plaas Afrikaans en gee vir hulle geld indien hulle goed doen op skool. Die man se regsverteenwoordiger, Louis Vertue, sê hulle is bekommerd dat hy herken sal word en in gevaar kan wees aangesien mense nie die regte storie ken nie. Intussen word daar steeds gesoek na die persoon wat die foto op Facebook gelaai het. Die Valke het intussen gesê hoewel daar nie in die stadium ʼn ondersoek na die voorval is nie, hulle die dossier ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.