Pa van twee word vir bedrog gevonnis

Garth le Roux (39), ‘n voormalige rekenmeester van die Wes-Kaap wat vier verskillende metodes gebruik het om sowat R894 689 van Pep Clothing te verduister, sal volgende week op 359 klagtes van bedrog gevonnis word.

Le Roux, ‘n pa van twee, sou Vrydag gevonnis word, nadat hy skuldig gepleit het, maar ‘n korrektiewetoesig-verslag wat deur die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof vereis word, is nog nie afgehandel nie.

Staatsaanklaer Derek Vogel het aan landdros Sabrina Sonnenberg gesê dat die beampte van korrektiewe toesig ‘n onderhoud gevoer het met Le Roux, maar dat sy verslag eers op 30 Julie beskikbaar sal wees.

Korrektiewe toesig is ‘n vonnisopsie vir huisarres sonder tronkstraf of kort tronkstraf waarna ‘n gevangene onder huisarres vrygelaat word.

As rekenmeester het Le Roux verantwoordelikheid aanvaar vir Pepkor Clothing se daaglikse kleinkas van R19 000. Aangesien hy die enigste persoon was wat dié kontant in veilige bewaring gehou het, kon hy die stelsel vir eie gewin manipuleer. Een van dié metodes was om looneise uit die kleinkas te vervals. Hy het ook die bedrag reiskoste wat konsultante geëis het, verhoog en die oortollige uitbetaling vir homself gehou. Hy het ook kleinkaseise manipuleer sonder om stawende dokumentasie in te dien.

Arthur Meyer, finansiële bestuurder, het Le Roux as ‘n “vaardige rekenmeester” beskryf en het aan die hof gesê hoe beïndruk hy en ander bestuurslede was met die “streng manier” waarop Le Roux finansiële kwessies hanteer het. Meyer sê hy het nooit enige oneerlikheid van Le Roux vermoed nie, maar dat die bedrog eers aan die lig gekom het nadat die persoon wat die salarisse hanteer, aan hom genoem het dat sy besorg is oor Le Roux.

Hy sê die maatskappy wil Le Roux graag agter tralies sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.