Die pa van ʼn seun wat in Soweto dood in ʼn vullisdrom aangetref is, is Dinsdag in hegtenis geneem vir die moord.
“Die 11-jarige seun van Jabavu is vir ʼn week lank vermis, maar is Saterdagaand kop onderstebo in ʼn vullisdrom opgespoor,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder vir die polisie, gesê. “Ons het Maandag die misdaadtoneel herskep en op sommige leidrade afgekom.”
“Daar was bloed aan die pa se klere en langs die vullisdrom. Die seun se nek en beide sy bene was gebreek,” het Makhubela bygevoeg. “Ons het die saak van ʼn geregtelike doodsondersoek na ʼn moordsaak verander.”
Die pa (47) is in hegtenis geneem en word by die Moroka-polisiestasie aangehou. Hy sal Donderdag in die Protea landdroshof verskyn.