ʼn 30-jarige pa het Sondag verdrink nadat hy sy twee kinders uit die Krommerivier in St. Francisbaai in die Oos-Kaap probeer red het nadat hulle in die moeilikheid beland het.
ʼn Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, Craig Lambinon, sê die man het self in die moeilikheid beland nadat hy in die rivier gespring het. Die kinders kon egter daarin slaag om ‘n paal te bereik waaraan hulle vasgeklou het voor hulle gered en na veiligheid gebring is. Hulle pa se liggaam is sowat 150m van waar sy gesin hom laas gesien het gevind.