Pa verkoop bakkie om seun se lewe te red

Herman Loots jnr. in die Midmed-hospitaal in Middelburg.

Herman Loots, ʼn inwoner van Middelburg in Mpumalanga, het sy bakkie verkoop om geld te probeer insamel om sy seun se lewe te red.

Herman se seun, Herman jnr., was Vrydag in ʼn motorfietsongeluk in die dorp betrokke. Hy het die oggend in ʼn kruising teen ʼn klein vragmotor gebots. Hy is daarna in die Middelburg-staatshospitaal opgeneem.

“Hy was vir sowat twee ure lank in die hospitaal se ongevalle-eenheid, waarna hulle hom na ʼn gewone saal gestuur het,” het Herman Woensdag aan Maroela Media gesê. “Vrydagaand het hy grappies gemaak en geëet. Dinge het goed gelyk, maar Saterdag het hy erg begin verswak. Ons het hom die oggend probeer bel, maar hy het glad nie reageer nie. Die hospitaal het ons eers 11:00 tydens besoektyd toegelaat om hom te sien. Hy het ons glad nie herken nie en het stuiptrekkings gekry,” het Herman gesê.

Herman en sy vrou het begin uitvind wat dit sou kos om hul seun by ʼn privaathospitaal te laat opneem en probeer om fondse te bekom omdat hulle nie vertroue in die staatshospitaal het nie.

Herman jnr. is intussen na die Witbank-hospitaal oorgeplaas waar ʼn CAT-skandering gedoen is. Hy is daarna teruggestuur na die Middelburg-staatshospitaal terwyl die plate na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria gestuur is vir ontleding. Herman jnr. is Saterdagaand in die staatshospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem.

Sy ouers het intussen hul bakkie verkoop, ʼn tweede verband op hul huis uitgeneem, ʼn persoonlike lening uitgeneem en hul kredietkaart uitgeput om genoeg geld te bekom om hul seun in ʼn privaathospitaal te laat opneem.

Herman jnr. is Sondagoggend in die Midmed-hospitaal in Middelburg opgeneem. Hy is daar weer ondersoek en het weer ʼn CAT-skandering ondergaan. ʼn Neurochirurg het daar bevind die seun het erge kneusing op sy brein en dat hy ʼn bloedklont in sy long het, wat suurstoftoevoer na sy brein belemmer.

Herman jnr. word tans in die hospitaal se intensiewesorgeenheid behandel. Hy word vandag geopereer om sy gebreekte linkerbeen en knie te herstel. Herman sê hulle is glad nie seker hoe lank hul seun in die hospitaal sal moet wees nie.

Mense wat die gesin wil bystaan kan geld direk in die hospitaal se rekening inbetaal. Vir meer inligting, bel Herman by 082 367 9299 of e-pos hom by [email protected].

Verskeie klagtes stroom in van slegte toestande by die Middelburg-staatshospitaal. Maroela Media wag vir kommentaar van die hospitaal.

Lees ook:
Video: Nagmerrie by Middelburg-hospitaal
Skokfoto’s: Suikersiektelyer vir weke sonder antibiotika na been-amputasie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

renita van der merwe ·

Skakel `n prokureur wat met die padongelukkefonds deel. Sover ek weet sal hulle magtiging gee en sal hy in `n privaathospitaal opgeneem word en alles sal gedek word. Ek weet De Broglio prokureurs is kenners op die gebied. Hang natuurlik ook af wie die ongeluk veroorsaak het.

Mariette Hammann ·

Baie sterkte. Ek dink dit is tyd dat die regering verantwoordelikheid neem vir die swak toestande van die staatshospitale en dat hulle ook moet betaal daarvoor!

Herman Loots ·

Ek wil vir almal wat bydraes maak vir ons seun wat in die hospitaal is hartlik bedank vir hulle ondersteuning.
Alle bydraes word uit die diepte van ons harte waardeer ! ! Elke bydrae help dat ons seun nog n dag in ICU behandeling kan ontvang.

Ons Vader is in beheer !

Jesus liefde, vrede en vreugde vir almal van julle !

Herman en Suzette Loots

Rena Brown ·

Sterkte en ja wat ouers nie alles vir hul kinders sal doen nie. Kinders bly altyd ouers se kosbaarste besittings, kom wat wil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.