Pa vermoor dogter se vermeende verkragter

ʼn Polisieman van Ulundi in KwaZulu-Natal is lewenslank tronk toe gestuur nadat hy sy babadogtertjie se vermeende verkragter en twee polisiebeamptes doodgeskiet het.

Die Pretoria News berig dat die pa, wie se naam nie bekend gemaak kan word nie, dié week skuld erken het in die Mthunzi hooggeregshof. Hy het getuig hy was kwaad oor die hantering van die beweerde verkragting van sy dogtertjie deur ʼn 13-jarige seun. Die hof het gehoor dat die dogtertjie in Januarie 2009, toe sy twee en ‘n half jaar oud was, verkrag is. Die jeugdige is in hegtenis geneem, het in die hof verskyn en is in die sorg van sy ouers vrygelaat.
Die pa was egter van mening dat die beskuldigde te lig daarvan afgekom het en dat die saak nie behoorlik ondersoek is nie. Hy het glo hieroor by ʼn superintendent van Ulundi, Pridesworth Bongiwe Masemola, gekla, in die teenwoordigheid van ʼn polisieklerk Joyce Fikile Gumede. Hy beweer hulle het hom sleg behandel.

Volgens die pa het die ondersoekbeampte in sy dogter se verkragtingsaak, Zephania Ntshayintshayi, hom in Mei 2009 geskakel en gevra om sy dogtertjie na ʼn kinderbeskermingsfunksie te bring wat deur die Ulundi-polisiestasie gereël is. Kort nadat die funksie begin het, het die pa vir Ntshayintshayi en Gumede buite sien staan. Hy het na hulle geloop en Ntshayintshayi twee keer geskiet. Die skote was nie noodlottig nie. Toe Gumede probeer weghardloop, het hy haar verskeie kere in die rug geskiet. Sy is op die toneel dood. Die polisieman het toe vir Masemola gaan soek en haar doodgeskiet. Hierna het die pa na die beweerde verkragter se skool gery waar hy hom uit ʼn klaskamer geruk, teen ʼn muur vasgedruk en doodgeskiet het. Hy het toe probeer selfmoord pleeg, maar het oorleef.

Die pa is lewenslank tronkstraf opgelê vir die moord op sy dogter se beweerde verkragter, 15 jaar vir die moord op Gumede, 24 jaar vir die moord op Masemola en sewe jaar vir poging tot moord op Ntshayintshayi.

Lees die volledige storie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.