ʼn Man het na bewering die ma van sy tweejarige kind verwurg waarna hy homself glo gehang het in Elandsfontein, suid van Johannesburg.
LookLocal berig dat die voorval vroeg Saterdagoggend plaasgevind het. Sers. Mduduzi Nhlabathi, ʼn polisiewoordvoerder, sê die man was glo Vrydagaand saam met vriende uit waarna hy vroeg Saterdagoggend na die ma van sy kind se huis is. Hulle het glo in ʼn geveg betrokke geraak waarna hy haar glo verwurg het. “ʼn Vriend van die man beweer dat hy die Vrydagaand wat hulle gekuier het aan hom gesê het om sy kis te dra wanneer hy dood is.” Nhlabathi sê die man het glo Saterdagoggend sy foon afgeskakel nadat hy na die vrou se huis is. “Toe sy vriende hom nie in die hande kon kry nie, is hulle na die huis waar hulle op die liggame afgekom het.” Die polisie ondersoek die saak.