Pa wat dogtertjie per ongeluk skiet: name bekend

Die identiteit van die gesin waarvan die pa Vrydagoggend per ongeluk sy 8-jarige dogtertjie doodgeskiet het, het intussen aan die lig gekom. Die meisie wat in dié hartseer voorval oorlede is, is die 8-jarige Edith Boshoff, ‘n leerder aan die Laerskool Hennopspark in Centurion. Haar ouers, Glenn en Adelé Boshoff, woon in Lyttelton Manor.

Die hele land is geskok oor die voorval wat om ongeveer 3:00 Vrydagoggend plaasgevind het. Volgens berigte het Glenn Boshoff ‘n geraas op die onderste vloer van die huis gehoor en gaan ondersoek instel. Hy het rowers op die grondvloer betrap. Een van die mans het ʼn vuurwapen op hom gerig. Boshoff het terug na hul slaapkamer op die eerste verdieping gehardloop, die deur toegeslaan en vir sy vrou, Adelé, gesê om hul vuurwapen uit die kluis te haal.

Die egpaar se tienerseun, Trevor, het op ’n badkamervloer gaan lê. Hul 8-jarige dogtertjie, Edith, het intussen van die geraas wakker geword en wou na haar ouers se slaapkamer gevlug. Toe haar pa hoor dat daar iemand by die deur is, het hy ‘n skoot deur die deur afgevuur, onder die indruk dat dit die rowers is. Hy het sy dogtertjie in die kop getref.

Na die skoot het die rowers die ma se handsak gegryp en gevlug. Toe die pa die deur oopmaak, het hy sy dogtertjie op die grond sien lê. Hulle het haar onmiddellik gegryp en na Unitas-hospitaal gejaag, waar sy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is. Sy is Vrydag omstreeks 11:00 dood.

Volgens ʼn ooggetuie het familie en vriende die erg-getraumatiseerde ouers by die hospitaal bygestaan. Hulle was te geskok om met die media te praat.

Luitenant-kolonel Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, het aan media gesê dit was ʼn ongeluk. “Teen Vrydagmiddag was polisie steeds met die ondersoek besig. Ons moet nog egter verklarings van verskeie mense neem alvorens bepaal gaan word of die pa aangekla gaan word of nie,” het hy gesê.

Uit beginsel ondersoek die polisie wel ʼn saak van strafbare manslag.

Hulle ondersoek ook ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie versoek enigiemand wat inligting kan verskaf om adjudant-offisier Tinus van Dyk by 082-890-8756 of by 012-664-8602 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.