Die pa van die Wes-Kaap wat Woensdag in hegtenis geneem is nadat hy glo sy twee kinders in Muizenberg vermoor het, is Donderdagaand in die hospitaal dood nadat hy sy eie keel probeer afsny het. Ao November Filander, ‘n polisiewoordvoerder, het die voorval Vrydag aan Maroela Media bevestig.
Die 47-jarige man het Woensdag sy tweejarige seuntjie en driejarige stiefdogtertjie se kele afgesny nadat hy hulle by ʼn kleuterskool in die Village Heights-informele nedersetting gaan haal het. Inwoners het die polisie gekontak. Die ma was nie by die huis nie. Die man was by ʼn plaaslike hospitaal aangehou nadat hy glo probeer selfmoord pleeg het. Die motief vir die moorde is nog nie bekend nie.