Paaie eis reeds 13 lewens dié naweek

Die ongeluk op die pad tussen Potchefstroom en Klerksdorp waarin vier mense gesterf het Foto: Netcare911

Dertien mense is reeds die afgelope naweek in padongelukke dood.

Die noodlottigste ongeluk het Saterdag op die pad tussen Potchefstroom en Klerksdorp plaasgevind waarin vier mense dood is. “Drie mense is dood voordat paramedici op die toneel kon kom. Een persoon is ernstig beseer en ‘n ander persoon het ook op die toneel aan sy beserings beswyk,” het Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare911 gesê. Die ongeluk het gebeur toe ‘n motor Saterdagoggend in ‘n afleweringsvoertuig vasgery het.

Drie mense is dood en drie beseer in ‘n ongeluk in Limpopo toe twee bakkies teen mekaar op die N1 gebots het. Volgens die provinsiale departement van paaie en vervoer het dié ongeluk Vrydagaand plaasgevind.

Twee mense is in Noordwes dood toe hul voertuig naby Biesiesvlei omgeslaan het. Kapt. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê die bestuurder het na bewering Vrydag beheer oor die voertuig verloor op die pad tussen Lichtenburg en Sannieshof. Twee ander insittendes is na ‘n plaaslike hospitaal geneem.

In ‘n vierde ongeluk is twee mense dood en agt beseer nadat hul voertuig Saterdagoggend op die N3 naby Balgowan omgeslaan het. “Die bestuurder van die Toyota Venture het beheer oor die voertuig verloor en die voertuig het ‘n paar keer gerol,” het Derrick Banks, woordvoerder van ER24, gesê. Die passasiers het regoor die snelweg gelê.

Twee mense is Saterdagoggend dood ná ‘n ongeluk reg van voor op die R26 buite Bethlehem in die Vrystaat. Hul voertuig het in ‘n swaargoederevragmotor vasgery, het Steinmann gesê. Drie mense is in die ongeluk ernstig beseer.

Twaalf mense is ernstig beseer toe ‘n bakkie Saterdagoggend in Grahamstad omgeslaan het.

Een persoon is beseer nadat twee voertuie in Tongaat in mekaar vasgery het.

Sedert die begin van die maand het 765 mense reeds op Suid-Afrikaanse paaie gesterf, het die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) Saterdag gesê. “Die voorlopige statistiek soos verskaf deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir die periode van 1 Desember 2012 tot 21 Desember 2012 is 765 sterftes van 638 noodlottige ongelukke,” het Ashref Ismail, woordvoerder vir die RTMC, gesê.

In 2011 het 1 771 mense weens ‘n totaal van 1 316 padongelukke tussen 1 Desember 2011 tot 10 Januarie 2012 gesterf. Die RTMC hoop om dié aantal noodlottige ongelukke met 25% te verminder. “Die voorlopige statistiek dui egter daarop dat ons nie dié teiken gaan haal nie,” het Ismail gesê. Die RTMC hoop egter om so naby as moontlik aan die doelwit te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.