Paaie stiller oor Paastyd

Argieffoto

Die paaie, insluitend een van die besigste paaie tussen Gauteng en Limpopo, is glo nie so besig oor die Paasnaweek as wat vroeër verwag is nie.

“Tot dusver is niks groot aangemeld nie en die paaie is nie so besig as wat ons verwag het nie,” het Ashref Ismail, woordvoerder vir die Padverkeersbestuurskorporasie, gesê. “Ons is egter besorg oor mense wat nie hul sitplekgordels dra nie, hul voertuie oorlaai en nie ag slaan op die korrekte volgafstand nie. Mense moet uiters versigtig wees op die pad.”

Ismail sê motoriste moet verseker dat hul voertuie padwaardig is voordat hulle reis en dat hulle ‘n veiligheidsondersoek vooraf doen.

Intussen het Joshua Kwapa, woordvoerder vir paaie en vervoer in Limpopo, het gesê verkeer op die N1 Noord en die R101 tussen Gauteng en Limpopo vloei. “Daar is geen groot voorvalle op die paaie nie, hoofsaaklik weens die ooreenkoms wat ons met busmaatskappye aangegaan het. Die busmaatskappye het ooreengekom dat busse van Gauteng na Moria om 00:00 sal vertrek. Dit het baie gehelp in terme van swaar verkeer,” het Kwapa gesê.

Paaie in Limpopo dra swaar verkeer in die Paastyd weens duisende gemeentelede van Zion Christian Church wat ‘n jaarlikse pelgrimstog na Moria, buite Polokwane, onderneem.

Kwapa sê die verkeer het sedert Donderdag afgeneem, maar sal moontlik weer teen Saterdag toeneem. “Mense moet geduldig wees. Ons grootste probleem is mense wat te vinnig ry en ons doen ‘n beroep op mense om aan die padreëls gehoorsaam te wees.”

Sowat 3 100 motors per uur is Vrydag by die Phumlani-tolplaza op die N1 rigting noord tussen 09:00 en 10:00 getel. “Ons paaie in Tshwane is baie stil weens die hoeveelheid verkeer wat na die snelweë geskuif het,” het senior superintendent Isaac Mahamba, woordvoerder vir Tshwane Metropolisie, gesê. “Daar is nog geen groot ongelukke aangemeld of inhegtenisnemings gemaak nie, maar ons doen ‘n beroep op motoriste om baie versigtig op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.