Kelly-Ann Groeneveld (23) het in die Paarl in die Wes-Kaap doodgebrand toe haar klere aan die brand geslaan het.
Groeneveld het haar ma Maandag by die werk gaan aflaai toe sy sonder brandstof gaan staan het, berig Beeld. Sy het haar pa gebel, wat vir haar ekstra brandstof gebring het. “Kelly-Ann het die tregter vasgehou toe ek die petrol ingegooi het, en ons het besef die tregter het gelek,” het haar pa, Andrew, aan die dagblad gesê. “Ek het vir haar gesê sy moet die petrol gaan afwas, maar sy was op pad na ‘n vriend se huis.”
Toe Kelly-Ann by die vriend se huis uitgeklim het, het sy ‘n vuurhoutjie aan die brand gesteek en haar klere het begin brand. Sy is na die hospitaal in Paarl geneem en is later na Tygerberg-hospitaal se brandeenheid oorgeplaas. Kelly-Ann het derdegraadse brandwonde aan haar liggaam en hande opgedoen. Sy is Maandagaand oorlede.
-SAPA