Paartjie in hof oor baba se dood

Trevor Viljoen (20) en Ashley Anne Jordaan (20) het Donderdag in die distrikshof in Vanderbijlpark verskyn op ʼn aanklag van kindermishandeling nadat hul 10 maande oue babaseuntjie verlede jaar in Augustus dood is.

Jordaan en Viljoen is nie gevra om te pleit nie, het Beeld Vrydag berig.

Ethan Viljoen is op 2 Augustus in sy ouers se huis in Palmhof oorlede. Tydens die nadoodse ondersoek is daar bevind dat hy ernstige beserings opgedoen het, wat daarop dui dat hy moontlik gewelddadig aangerand is voordat hy dood is. Volgens Kinnie Steyn, woordvoerder van die polisie, het Ethan twee kopbeserings gehad, beide sowat 60mm lank, en ou beserings op sy regterarm.

Ná ʼn deeglike ondersoek het die Nasionale Vervolgingsgesag besluit om Jordaan en Viljoen van kindermishandeling aan te kla. Hulle is altwee verlede week in hegtenis geneem en het in die plaaslike landdroshof verskyn waar die saak na die distrikshof verwys is.

Borg van R3 000 is vir altwee toegestaan, maar slegs Viljoen kon dit bekostig en Jordaan bly gevolglik in aanhouding.

Beeld berig die paartjie se eerste baba, ook ʼn seuntjie, was slegs ʼn week oud toe hy dood is en in daardie stadium is daar vermoed dat die seuntjie ʼn wiegiedood gesterf het.

Die twee beskuldigdes sal op 6 Junie weer in die hof verskyn. Steyn sê die sterftesertifikaat het aangedui dat Ethan se afsterwe ʼn oorerflike hartdefek was. “Die egpaar staar egter aanklagtes van kindermishandeling in die gesig van die baba se geboorte tot die dag van sy afsterwe, weens die beserings wat hy in daardie tyd opgedoen het,” het Steyn gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.