Die polisie in KwaZulu-Natal sê die liggame van ʼn paartjie is Vrydagoggend in hulle huis in Bluff in Durban gevind.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Thulani Zwane, sê die man en vrou is albei in die kop geskiet. Zwane sê die polisie het Vrydagoggend omstreeks 6:30 op die man en vrou, albei 50 jaar oud, se liggame afgekom. Hy sê daar is ʼn vuurwapen langs die paartjie se liggame gevind. Zwane sê die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Hy sê die polisie ondersoek die moontlikheid dat die voorval verband hou met huishoudelike geweld. “Ons ondersoek ʼn saak van moord en selfmoord”. Zwane sê daar was geen teken van gedwonge ingang nie en niks is uit die huis gesteel nie.