Paaseiland se beelderaaisel dalk ontrafel

Argeoloë reken nou beelde op Paaseiland het na hul staanplekke "gestap". Foto: National Geographic

Volgens die oorgelewerde sagas van die Paaseiland-inboorlinge, het die misterieuse beelde van tot 90 ton van die plekke waar hulle uit klip gekap is, na hul staanplekke “gestap.”

Nou meen argeoloë wat meer oor die lewe van die antieke Polinesiërs op die eiland te wete probeer kom, dis heel moontlik presies wat gebeur het.

Verskeie spanne argeoloë is met navorsing op die eiland besig, en ‘n wye reeks studies word gedoen oor aspekte soos die aankoms, die grootte van die bevolking, die landboumetodes en sosiale strukture. Maar die aspek wat die wêreld se verbeelding aangryp, is die beelde wat die eiland bekend gemaak het. Elkeen van die spanne het teorieë oor omtrent alles, en so ook oor die vraag hoe die groot, swaar klipbeelde vervoer is.

Die mees algemene teorie is dat die beelde plat laat lê is, en op rollende boomstamme vervoer is.

Twee argeoloë, Terry Hunt en Carl Lipo meen anders, en het so ver gegaan om hul teorie dat die eilandbewoners se oerverhale in die kol was, op die proef gestel en ‘n 5 ton replika gemaak. Hulle het gevind dat as die beeld regop staan, die boepie die natuurlike voorwaartse momentum verskaf, terwyl so min as 15 “touleiers” nodig is om die beeld met toue heen en weer te wikkel. En siedaar, hy stap na sy bestemming toe.

Sukses was duidelik nie gewaarborg nie, want oral langs die paadjies is die brokstukke van beelde wat dit nie gemaak het nie, en omgekantel het.

Die argeoloë meen hierdie tydverdryf was beter as om onderling oorlog te maak, en het onderlinge samewerking bevorder.
Hunt en Lipo se artikel verskyn in die Julie-uitgawe van National Geographic.

Ander argeoloë is min beïndruk met Hunt en Lipo se bevindings, waaronder die gevolgtrekking dat die beelde na hul staanplekke “geloop” het. Hunt en Lipo se gevolgtrekkings is egter onder minstens ‘n deel van die inheemse bevolking gewild – dit staaf dat hul voorouers nie ‘n mislukte volk was nie, soos wat die ander argeoloë oordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.